Veronderstel dat iemand in Januarie 2020 vir jou die volgende sou gesȇ het: “In hierdie jaar sal jy geen drukkies kry nie, inteendeel jy sal twee meter van persone af moet wees en almal sal maskers moet dra. Jy, jou familie en vriende sal nie bymekaar kan kuier nie. Jy sal geen sportbyeenkoms kan bywoon nie, jou kinders se skole sal sluit, jou kerk se deure sal toemaak, winkels sal nie verkope doen nie en die strate sal verlate wees.
R 120.00 | $ 7.00 (E-Kopie)
Apokalips oor Jesus is ‘n boek vol hoop en betekenis in ‘n stukkende wȇreld van onsekerheid, angs en pyn. Dit doen die naam Apokalips gestand. Dit lig die sluier om Jesus raak te sien ten spyte van hartseer, angs en bangmaakstories van diegene wat Openbaring wil verklaar as die rampspoedige einde van alles.
R 240.00 | $ 14.00 (E-Kopie)
Soms wil jy nie meer nie. Jy kan nie meer nie. Jy wil uit, maar daar is nie ‘n uit nie. As daar maar êrens ‘n EXIT knoppie was wat jy kon druk…. Maar intussen is jy in die lewe se bokskryt. En jy word stukkend geslaan deur krisisse, hartseer en bekommernis. Indien jy soms só voel, is hierdie boek net vir jou....
R 110.00 | $ 6.00 (E-Kopie)
Die Net-generasie is die eerste generasie wat grootword in ‘n tegnologiese wêreld waar byna alles gerekenariseerd is. Hulle gebruik nie net die tegnologie soos die ander generasies voor hulle nie – hulle lééf dit.Derhalwe bied die opvoeding van hierdie generasie groot uitdagings aan hulle ouers ...
R 110.00 | $ 6.00 (E-Kopie)
Vierduisend jaar gelede het daar ‘n man in Us, in die noorde van Arabië gewoon. Hy kon net sowel ná 1994 in Suid-Afrika geleef het. Want net soos ons verhale, is sy verhaal deurweef met verskriklike verliese, vernedering, ontbering, skok en trauma....
R 150.00 | $ 8.00 (E-Kopie)
Jesus het na Sy Opstanding nog 40 dae op die Planeet Aarde rondgeloop. Stap saam met die skrywer in die spore van Jesus vanaf die oomblik toe Hy sy eerste tree uit die graf geneem het totdat Hy opgevaar het na die hemel....
R 150.00 | $ 8.00 (E-Kopie)
Jy ken dié deur. Jy staan elke dag voor dit. Die deur se naam is Môre. En elke dag staan ons voor die deur. Ons weet nie wat om te verwag nie. Ons is bang en bekommerd. En dan, as die môre aanbreek en ons maak die deur oop...
R 110.00 | $ 6.00 (E-Kopie)
“As jy deur vuur gaan” is ’n boekie wat handel oor genade in krisistye. Ons almal gaan soms deur vuur. Mense raak uitgebrand, moeg en leeg. Dit is in sulke tye dat ons Iemand nodig het wat ons kan bystaan.
R 110.00 | $ 6.00 (E-Kopie)
Soms kom daar moeilike dae en dit voel vir jou of jy net dryf, dryf êrens heen en jy weet nie waarheen nie. En dan... Dan sink dit. Dan sink jy. Soms voel dit vir jou of alles rondom jou sink. Jou finansies sink, jou huwelik, gesin, vriendekring.
R 110.00 | $ 6.00 (E-Kopie)
‘n Nuwe Era het aangebreek. Die Era van die Lam se Koninkryk. En hierdie era sal vir altyd duur. Die Koninkryk van die Lam is besonders. Baie anders as die koninkryke van die aarde.
R 110.00 | $ 6.00 (E-Kopie)
JY KEN DAARDIE DEUR...
Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.
Hebreërs 11:1
Ons almal ken daardie DEUR. Baie mense het al hulle lewens geneem oor wat hulle gedink het, is agter daardie deur. Heelwat mense het maagsere, hartomleidings en siektes gekry oor wat hulle gedink het is agter daardie deur. As die deur maar van glas was, kon ons gesien het wat is daaragter. Maar ons kan nie, dit is alles onbekend. Ons weet nie wat vir ons wag agter daardie deur nie. Jy ken dié deur. Jy staan elke dag voor dit.
Die deur se naam is Môre...
En elke dag staan ons voor die deur. Ons weet nie wat om te verwag nie. Ons is bang en bekommerd. En dan, as die môre aanbreek en ons maak die deur oop...
Dan is daar meestal lig en ons besef dat ons nie nodig gehad het om ons te bekommer nie. En ons leef die dag. Maar, daar is weer ‘n deur, en sy naam is Môre. En so staan ons elke dag voor dieselfde deur, Môre...
En Môre raak soos ‘n berg voor ons. Abraham staan in Genesis 12 fisies op die Berg Moré, eintlik Moreh.
En Abram het deur die land getrek na die plek Sigem, tot by die terpentynboom More. Die Kanaäniete was toe in die land.
Gen 12:6
Die Afrikaanse Vertaling praat van die terpentynboom Moré. Eintlik staan daar in die Hebreeus: “by die terpentynboom van Moré.” Moré was ‘n berg.
Ons sien dus Abraham gaan staan ook by ‘n Moré. Dit is ‘n berg. Hy staan daar onder ‘n Terpentynboom. En hy weet ook nie wat die toekoms gaan inhou nie. Hy weet nie wat die deur na môre sal inhou nie. Maar hy het ‘n onwrikbare geloof in die Here. Hy het die geloof van Hebreërs 11:1
Kom ons lees hierdie versie mooi.
Geloof beteken om ‘n vaste vertroue te hê in iets wat ons nie kan sien nie, maar wel hoop. Geloof is die bewys van iets wat ons nie kan sien nie.
Neem die DEUR as voorbeeld. Ons weet nie wat wag agter die deur nie. Maar ons glo dat die Here reeds daar is. Geloof is die bewys dat die Here reeds daar is. En daarom moet die DEUR van môre nie vrees inhou nie. Want dieselfde Here wat vandag by ons is, is môre ook daar.
Kom ons lees verder in Hebreërs 11.
Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ‘n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom. Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ‘n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte.
Hebreërs 11:8-9
Abraham word deur die Here geroep om weg te trek van sy geboorteland af. Hy weet nie wat die toekoms gaan inhou nie. Hy weet nie wat môre gaan gebeur nie. Maar wat hy wel weet, is dat die Here met hom gaan wees. En so sterk is sy geloof, selfs toe hy die opdrag kry om sy seun te gaan offer. Dit is onwrikbare geloof. Moenie bekommerd wees oor daardie DEUR nie. Die Here is reeds daar....
As Alles Rondom Jou Sink
En die profete-seuns het vir Elísa gesê: Kyk tog, die plek waar ons voor u woon, is vir ons te nou. Laat ons tog na die Jordaan gaan en elkeen daarvandaan ‘n balk gaan haal, dat ons daar vir ons ‘n
plek kan maak om daar te woon. En hy het gesê: Gaan. Maar een sê: Gaan tog asseblief saam met u dienaars. En hy antwoord: Ek sal gaan. En hy het saam met hulle gegaan. En toe hulle by die Jordaan kom,
het hulle bome omgekap. Maar terwyl een die balk kap, val die yster in die water; en hy roep uit en sê: Ag, my heer, dit is nogal geleen! En die man van God vra:
Waar het dit geval? En toe hy hom die plek wys, het hy ‘n stok afgesny en dit daarheen gegooi en die yster bo laat drywe. En hy sê: Haal dit nou maar uit! En hy het sy hand uitgesteek en dit geneem.
2 Konings 6:1-7
Daar kom dae wanneer alles rondom jou sink. Soms seil jy op die waters na die toekoms en dit gaan goed. Alles loop net reg en jy het vreugde. Maar, soms kom daar moeilike dae en dit voel vir jou of jy net dryf, dryf êrens heen en jy weet nie waarheen nie. En dan...
Dan sink dit.
Dan sink jy. Soms voel dit vir jou of alles rondom jou sink. Jou finansies sink, jou huwelik, gesin, vriendekring. Jou gesondheid sink in ‘n rivier van bekommernisse.
Het jy al so gevoel?
Gevoel of alles rondom jou sink? En jy weet nie hoe om dit te keer nie. Elisa het vir jou raad.
Een van die teologiese studente van Elisa vra dat hulle woonplek groter gemaak moet word. Hy vra of hulle balke by die Jordaan kan gaan afkap. Elisa antwoord toe dat hulle dit kan gaan doen. Maar die student wil hê dat Elisa moet saamgaan. En Elisa gaan toe saam.
Die student se byl wat hy geleen het gly toe uit die handvatsel uit en beland in die rivier. En dadelik roep hy sy professor. Elisa moet kom help. Elisa vra toe waar dit gebeur het en gaan staan op daardie plek en sny ‘n stok af en gooi dit daarin.
En skielik begin die byl te dryf.
En hy beveel sy student om dit uit te haal.
‘n Wonderwerk!
Elisa laat die yster dryf. ‘n Wonderlike betekenis! Elisa se naam beteken: God is Redding. Dit gebeur by die Jordaanrivier. Net in die vorige hoofstuk lees ons van Naäman wat sewe keer in die Jordaan moes duik en wat gesond geword het van melaatsheid. Die Jordaan is die poort na die Beloofde Land.
Dit is die plek van wonderwerke!
Die bylpunt is ons alledaagse lewe.>
En soms, sink dit.
Soms sink alles rondom ons. En ons bid en ons vra vir hulp. En dan kom die Here deur Sy woord en Hy gee vir ons die voorbeeld van die hout, die KRUIS.
Want sien, Jesus se kruis, Sy liefde, laat ons weer dryf. Ons sink weg in ‘n sondige donker wêreld voor die Poorte van die Beloofde Land. En dan red Jesus ons.
En die water van die Jordaan maak ons rein, dit genees ons van geestelike melaatsheid.
En ons word rein sodat ons by die Poorte van die hemel kan wag, wag vir Jesus om ons te kom haal.
Kom swem in die Jordaan van Sy Woord. Kom swem tussen die bladsye van die Bybel. Want sien, ‘n stuk hout het vir ons redding gebring, die kruis laat ons weer dryf.
As jy vandag rond dobber en alles is besig om te sink, wys vir Jesus die plek waar dit sink.
Verenig met Hom in gebed.
Maak die Jordaan van sy Woord oop en begin te swem.
Lees en bid, en lees en bid.
En Sy Genade sal jou laat swem in die water. Sy Liefde sal dit wat rondom jou gesink het weer laat dryf. En staan dan op jou knieë en gryp dit.
Want sien, die lewe is kort.
Jy moet elke oomblik gryp en begin leef. Mag Sy Genade jou dring daartoe!
AS JY DEUR VUUR GAAN…
Baie jare gelede, toe ek nog in die laerskool was, sit ek eendag by my pa in sy studeerkamer en kom daardie dag tot bekering. My pa was besonders lief vir Jesaja 43 en lees dit daardie dag vir my. Dit is die baie bekende woorde:
Maar nou, so sê die HERE, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne!
As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere—hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.
Jesaja 43:1,2
Gedurende sy bediening het ek ook agtergekom dat hy besonders lief was om hierdie gedeelte te lees, veral by mense in nood. Maar ‘n rukkie gelede het ek die Here se genade deur hierdie gedeelte besef.
Dit was ‘n Saterdagmiddag. Daar het ‘n vuur ontstaan by die alternatiewe roete op die Standerton-Bethalpad. My pa-hulle het mense gehad wat by hulle op die plaas gekuier het. Skielik het hulle bewus geword van rook.
Daar was ’n vuur oppad na hulle huis. Hulle het die bakkie geneem en die waterkar aangehak.
Mense het na die tyd gevra wat hy op nege en sewentigjarige ouderdom in die vuur gaan soek het. Die antwoord is doodeenvoudig.
‘n Boer wil sy vee beskerm, dit maak nie saak hoe oud hy is nie.
In die vreeslike rook het hy op ‘n kontoerwal beland. Die bakkie het vasgesit. My ma en die vriende het gaan hulp soek en van die huis af geskakel. Orals was net rook en vlamme.
Sowat drie uur die middag het hy my geskakel met sy selfoon en gevra dat ek dadelik moet kom. Hy is in ‘n vuur vasgevang en sy bakkie het ontplof. Ons het deurgejaag plaas toe maar kon niks sien nie. Dit was een van daardie vure waar die wind van al die kante af kom. Groot vure maak mos hulle eie wind.
Skielik het die wind begin waai van ‘n kant af en die rook het ‘n bietjie padgegee. In die vêrte kon ons my pa sien. Hy was vêr van sy gebrande bakkie af. Hy het daar gestaan soos ‘n Moses van ouds. Kierie in die hand. Sy getroue boerboel het op sy voete gelê om hom te beskerm. Sy hande was in die lug, verbrand. Twee boere het vir my gehelp om by hom te kom. Ek en my seun het hom in ons voertuig gehelp en hospitaal toe gejaag in Trichardt. Hy het gepraat en gevra dat ek sy gemeente moes laat weet dat hy nie die volgende dag kon preek nie. Ek het dit dadelik gereël en sy gemeente kon betyds ’n aflosleraar in die hande kry. My pa het by die hospitaal gevra dat ek sy skoene moet huis toe neem.
Dit was sy laaste woorde.
’n Ambulans het hom Pretoria toe geneem en hy het ’n week daar in ’n koma gelê. Die volgende Sondagoggend het die hospitaal my laat weet hy dat hy op sterwe lê. Ons het deurgejaag en die dokters het my probeer oortuig dat hy net op my gewag het. Ons moes groet, hulle wou die masjiene afsit. Maar ek het geweet, hy is lankal nie meer daar nie.
Die Here het hom reeds kom haal. Die Here wag nie vir masjiene as Hy jou kom haal nie. Masjiene kan jou liggaam aan die gang hou, maar nie jou siel van die Here af weghou nie. Op daardie oomblik, net nadat die masjiene afgeskakel is, was dit heilige oomblikke. Die familie het een vir een uit die hospitaalkamer uitgestap. Net ek, my pa se liggaam en die Here het agtergebly. Ek kon Sy teenwoordigheid aanvoel. En ek het gewonder waaroor my pa se laaste preek gehandel het wat hy voorberei het vir daardie Sondag na die vuur.
Ek het die preek in sy studeerkamer gevind. ’n Pragtige boodskap. Die teksvers: Jesaja 43, sy geliefde gedeelte. Daar het ek iets van God se grootheid besef. Dit was my pa se geliefde gedeelte in die Bybel. Die Here het nie met sy gemeente daardie week gepraat deur die preek nie, maar met my pa self. Sy boodskap was voor die handliggend: “Frik, My kind, moenie bang wees nie, Ek het jou op jou naam geroep. Jy is Myne. As jy deur vuur gaan, is ek met jou.”
Met daardie week se boodskap het my pa krag gekry. Vir ‘n week lank oordink ‘n dominee baie keer sy preek. En dit was die boodskap wat hy die hele week by die Here gehoor het: “Frik, My kind, moenie bang wees nie, Ek het jou op jou naam geroep. Jy is Myne. As jy deur vuur gaan, is ek met jou.”
En so staan ons vandag in ‘n vuur van krisisse. Ons elkeen het sy eie krisis. Jy gaan dalk deur ’n moeilike tyd in jou lewe. Die vlamme van finansies, siekte of hartseer brand jou dalk. Maar die Here kom in hierdie bekende gedeelte en sê: “Moenie bang wees nie, Ek het jou op jou naam geroep. Jy is Myne. As jy deur vuur gaan is ek met jou.”
Die Here het ‘n week lank met my pa gepraat. Daarna het daar vuur gekom. Maar, ons het hom staande gekry. Want, die Here was met hom. Mag dieselfde Here, die enigste ware God, ook met jou wees wanneer jy deur krisisse van vuur gaan.
In Die Koninkryk Van Die Lam
JY IS SY OOGAPPEL
Bewaar my soos ‘n oogappel; verberg my in die skaduwee van u vleuels.
Psalm 17:8
Wat gebruik jy elke dag?
Elke uur, elke sekonde?
Sommige sal sê hulle selfone. ‘n Mens gebruik jou hande baie, maar daar is iets wat jy meer gebruik. Jou oë...
Jy gebruik jou oë vandat jy opstaan in die oggend; wanneer jy hare kam, tande borsel, eet en so baie meer. ‘n Mens se oë is baie belangrik.
Jou oog bestaan onder andere uit die volgende:
Die oogwit. Daarin kan mens soms sien of jy siek of gesond is.
Die reënboogvlies: Dit bepaal die kleur van jou oë.
Die pupil: Dit gebruik jy om te sien.
‘n Mens se pupil word goed beskerm. Wanneer daar stof of muggies of so iets naby die oog kom, beskerm jou ooglede jou oog. Dit maak vinnig jou oog toe sodat daar niks kan inkom nie.
Daar is ‘n bekende spreekwoord oor ‘n mens se oë. As iemand vir jou baie kosbaar is, dan sê jy die persoon is “die appel van jou oog.”
Of, “jou oogappel.”
Hierdie spreekwoord is duisende jare oud. Dawid gebruik dit in Psalm 17 en Moses gebruik dit reeds in Deuteronomium 32.
Omrede die pupil baie soos ‘n appel lyk, het die mense in die antieke tye van die appel van die oog gepraat.
Die Hebreeuse woordjie is “yshon” en beteken pupil, maar kan ook vertaal word met “die klein mannetjie van die oog.”
Dit het ‘n pragtige betekenis. Wanneer jy in die helder lig teenaan ‘n ander persoon staan, sien jy jouself in die ander persoon se pupil. Jy sien jou hele lyf en gesig in die ander persoon se oog. Maar, dan moet jy teenaan die ander persoon staan. Indien jy te ver staan, sien jy nie jouself daarin nie. Daarom beteken die Hebreeuse woordjie “die klein mannetjie van die oog.” Want jy sien jouself daarin.
Om vir iemand te sê dat hy of sy die appel van jou oog is, beteken dat jy baie lief is vir daardie persoon en dat hy of sy baie kosbaar is vir jou. Die persoon is baie naby aan jou.
Dawid vra die Here om hom as Sy oogappel te bewaar. Dit beteken egter dat ons baie naby aan Hom moet leef. So naby soos iemand wat homself in ‘n ander se pupil sien. Kom ons gaan kyk na die woorde van Dawid en ons vertaal dit uit Hebreeus.
Bewaar my soos ‘n oogappel; steek my weg my in die skaduwee van u vlerke...
Psalm 17:8
Om die Here se oogappel te wees, beteken dat ons baie naby aan Hom moet lewe. Ander mense moet die Here in ons kan raaksien. Net soos wat jy jouself in iemand anders se pupil kan sien, moet ons so naby die Here leef dat ander Hom in ons kan raaksien, want, ons is na Sy Beeld geskape.
Dawid vra ook dat die Here hom moet wegsteek in die skaduwee van Sy vlerke. As ons naby die Here wil leef, moet ons toegevou word tussen die bladsye van Sy Woord, weggesteek in die skaduwee van Sy Genade.
Dawid skryf Psalm 17 gedurende ‘n baie moeilike tyd in sy lewe. Hy is op vlug omdat Saul hom wil doodmaak. En toe hoor Dawid dat Saul vyf en tagtig priesters doodgemaak het. Dit was vir Dawid baie hartseer, want hy was baie lief vir die Here. En hier, in ‘n baie donker tyd van sy lewe vra hy vir die Here: “Bewaar my soos ‘n oogappel; steek my weg my in die skaduwee van U vlerke...”
Jy ken moeilike tye, tye van vrees en bekommernis. Tye wat ons by die Here pleit om ons toe te vou onder Sy vlerke. In sulke tye tel die Here ons op. Kyk wat skryf Moses hieroor:
Hy het hom gevind in ‘n woestynland en in ‘n woeste wêreld, vol gehuil van die wildernis; Hy het hom omring, op hom ag gegee, hom bewaak soos sy oogappel.
Deuteronomium 32:10
Die Here sal jou vind in moeilike tye. Hy sal jou optel uit die woestyn van jou lewe. Hy sal jou bewaak soos Sy oogappel. Die Here soek jou naby aan Hom.
Teenaan Hom.
In die Koninkryk van die Lam is jy Sy oogappel!
En daar is ‘n manier om elke dag daaraan herinner te word. Wanneer jy in die spieël kyk, kyk na jou pupil en dink daaraan of jy naby aan die Here is. As jy met iemand praat, kyk in sy of haar oë en dink of jy nog naby aan die Here is.
Onthou, om jouself raak te sien in iemand anders se oë, moet jy teenaan daardie persoon staan. Om naby aan die Here te wees, beteken dat ander mense Hom in jou moet sien, in jou lewe en in jou woorde.
40 DAE MET JESUS
Jesus het na Sy Opstanding nog 40 dae op die Planeet Aarde rondgeloop.
Stap saam met die skrywer in die spore van Jesus vanaf die oomblik toe Hy sy eerste tree uit die graf geneem het totdat Hy opgevaar het na die hemel. Oor ‘n tydperk van 40 dae het Hy talle ontmoetings met mense gehad.
Hy het die angsbevange dissipels, wat hulle toegegrendel het agter dik deure, bemagtig en aan hulle ‘n intimiderende opdrag gegee om die boodskap dat Hy opgestaan het te verkondig regoor die wêreld voordat daar e-pos, facebook, twitter, vliegtuie, televisie of radiostasies was.
Hy het die Nagmaal gevier saam met twee ontmoedigende mense en dit het hulle verander na jubelende getuies. Hy het Petrus wat soos ‘n mislukking gevoel het omdat Hy Jesus verraai het, in die openbaar herstel.
Hy het verskyn aan Sy skeptiese broer, aan Tomas en die vroue.
Hy het saam met volgelinge op die strand ontbyt geëet en aan 500 gesinne ‘n onvergeetlike bergtog-ervaring gegee.
Hierdie ontmoetings gee ons dieper insig in Jesus en Sy bediening, dit bemoedig ons en rus ons toe om ons lewe op aarde te leef met ‘n vaste vertroue dat Hy die dood oorwin het en dat ons vir ewig sal lewe.
UITTREKSEL
Die leë graf se verhaal het ‘n ewigheid voor Jesus se kruisiging (33 na Christus) begin. Ons lees in Jesaja 14 en in Esegiël 28 dat Satan voor die skepping in opstand teenoor God gekom en voorgegee het dat hy beter as God is en beter regeer. Hy moes ‘n indrukwekkende redeneringsvermoë gehad het as ‘n derde van die engele sy stories geglo het. Daar het ‘n burgeroorlog uitgebreek en Satan en ‘n derde van die engele is uit die hemel verdryf.
Verbeel jou ‘n oomblik dat ‘n soortgelyke toneel in jou gemeente afspeel. Een Sondagoggend stap daar ‘n man in die kerk in en verkondig dat die Christelike geloof waardeloos is. En ‘n uur later stap ‘n derde van die lidmate saam met hom uit. Die man wat dit regkry moet goeie oorredingsvermoë hȇ! En wat gebeur met die twee derdes van die lidmate wat oorbly? Daar sal ongetwyfeld by baie van hulle twyfel wees. Hulle sal wonder of hulle besluit om te bly, die regte besluit was. Hulle sal bly wonder waarom so baie mense die spreker geglo het? Het hy nie dalk die waarheid gepraat nie?
Waarskynlik was dit ook die geval met die engele. Die twee derdes wat oorgebly het, sou dalk bly wonder het of Satan se beskuldigings waar is. Is God dalk wreed en sou Satan beter kon regeer?
Lank na hierdie gebeurtenis besluit God om mense te maak. Hy het gesȇ:
Kom Ons maak die mens as Ons verteenwoordiger, Ons beeld, sodat hulle kan heers oor die visse in die see, die voëls in die lug, die mak diere … Man en vrou het Hy hulle geskep.
Genesis 1:26
God het Adam en Eva in die tuin van Eden geplaas en gesȇ dat hulle van al die bome, behalwe een, mag eet. Hy het gesȇ:
Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.”
Genesis 2:16,17
Satan het sy visier gerig op Eva en by haar twyfel gesaai: “Is jy seker dit is wat God gesȇ het? Kom ek vertel jou ‘n geheim - God jok. Hy is selfsugtig en onredelik. Julle sal nie sterf nie, maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.”
Satan doen dit nog steeds wanneer hy vir ons sȇ: “Ek weet dit is wat in die Bybel staan, maar is jy seker dit is so? God het jou nie lief nie, want waarom kry jy so swaar? Hoekom gebeur al hierdie slegte goed met jou wat ‘n goeie mens is en dit nie verdien nie?”
Volgens Satan is God vol reëls en dreig Hy om Eva en Adam dood te maak as hulle nie Sy reëls nakom nie. God het egter nooit gesȇ dat Hy hulle gaan doodmaak as hulle van die boom eet nie. Hy het wel gesȇ dat die konsekwensies (uitkoms) om daarvan te eet die dood is. Satan laat dit klink of God die mense net wil beperk met reëls. Die waarheid is dat God gesȇ het dat hulle van alles kan eet, behalwe een. Hy beperk hulle nèt met een boom. Van al die honderde bome kan hulle neem soveel as wat hulle wil. Satan se aanval op God se karakter is verskriklik.
As kind het ek dikwels gewonder waarom God nie die slang hier in die tuin doodgemaak het nie. Hy is almagtig en sterk. Hy kon dit maklik doen. Dit was eers toe ek ouer geword het dat ek besef het dat Satan se dood geen oplossing sou wees nie. Satan se beskuldigings dat God nie mense liefhet nie, hulle net beperk en ‘n leuenaar is, was reeds in die lug. En hoe maak jy ‘n beskuldiging dood? As God op hierdie tydstip vir Satan doodgemaak het sou Hy net die beskuldigings versterk het, byvoorbeeld as ‘n minister beskuldigings teen die president op die nasionale televisie lewer en die volgende dag word die minister onverwags dood in sy bed aangetref! Dan gaan almal wonder of die beskuldigings wat hy geopper het, nie tog waar is en die president hom daarom uit die weg wou ruim nie. Dieselfde is hier van toepassing: die beskuldigings is in die lug en om Satan dood te maak sal nie die beskuldigings laat verdwyn nie. God belowe dat Hy Satan sal vernietig, maar nie op hierdie tydstip nie.
ANDERKANT DIE POTSKERWE
Vierduisend jaar gelede het daar ‘n man in Us, in die noorde van Arabië gewoon. Hy kon net sowel ná 1994 in Suid-Afrika geleef het. Want net soos ons verhale, is sy verhaal deurweef met verskriklike verliese, vernedering, ontbering, skok en trauma.
Dit is die verhaal van ‘n man wat moes worstel met onverdiende pyn en vrae na die teenwoordigheid van God in ‘n trauma. Sy verhaal is soortgelyk aan baie Suid-Afrikaners se verhale en roep ons om saam met hom te worstel om sy en derhalwe ook ons eie lyding te verstaan. Kán ‘n gelowige ly?
Waarom gebeur sulke slegte dinge met goeie kinders van God?
Geweld, gewapende aanvalle, rooftogte, verkragting, huishoudelike geweld, Vigs en ander siektes, padongelukke en armoede is alledaags in ons land.
Hoe moet ons as christene in Suid-Afrika oor God en met God praat te midde van lyding?
Hierdie boekie worstel saam met die gelowige deur die trauma en al die waarom-vrae.
UITTREKSEL
Vierduisend jaar gelede het daar ‘n man in Us, in die noorde van Arabië gewoon. Hy kon net sowel ná 1994 in Suid-Afrika geleef het. Hy kon net sowel in en na 2020 in enige plek in die wȇreld geleef het en ‘n globale pandemie beleef het. Want net soos ons verhale, is sy verhaal deurweef met verskriklike angs en verliese, vernedering, ontbering, skok en trauma. Dit is die verhaal van ‘n man wat moes worstel met onverdiende pyn en vrae na die teenwoordigheid na God in ‘n trauma. Sy verhaal is soortgelyk aan baie Suid-Arikaners se verhale en roep ons om saam met hom te worstel om sy en derhalwe ook ons eie lyding te verstaan. Kán ‘n gelowige ly? Waarom gebeur sulke slegte dinge met goeie kinders van God?
Ons is deel van ‘n kontinent waar die lyding van onskuldige mense ‘n realiteit is. Afrika het ‘n spreekwoord.: “When elephants fight, it is the grass that suffers.” Oorloë, gewapende konflik en geweld in Afrika is die oorsaak dat daar vandag 18 miljoen kinders is wat in die chaos van oorlog grootword. In die afgelope 10 jaar is 2 miljoen kinders in Afrika dood as gevolg van gewapende konflik. Daarby is 6 miljoen kinders deur oorloë gestremd en 20 miljoen haweloos gelaat. Behalwe dat ons in ‘n geweldadige kontinent leef, leef ons boonop ook in ‘n land waar onskuldige mense daagliks deur trauma’s getref word. Tydens die wêreldbekersokker wat in 2010 in Suid-Afrika gehou is, het een van die oorsese joernaliste wat pas geland het op OR Tambo lughawe, die volgende gesê: “I have entered the most beautiful and the most dangerous place on earth.” Dis ons land! Geweld, gewapende aanvalle, rooftogte, verkragting, huishoudelike geweld, Vigs en ander siektes, padongelukke en armoede is alledaags in ons land. Hoe moet ons as Christene in Suid-Afrika oor God en met God praat te midde van lyding.
Die Coronavirus het die wȇreld in vrees en rou. Skielik sluit een na die wȇreldlande hulle af van ander. Skole word toegemaak. Mense steier oor die onsekerheid oor die toekoms. Die ekonomie is besig om in duie te stort.
Trauma is soos ’n bomontploffing.
Dit spaar niks en ruk alles uitmekaar.
Dit ruk jou geloof oor God uitmekaar.
Dit ontnugter jou. Wat voorheen vir jou ’n sekerheid was, is skielik vaag.
Jy worstel oor God, jou medemens, die wêreld en veral oor die sin van jou bestaan.
En daarom dompel ‘n trauma gelowiges dikwels ook in ernstige geloofskrississe. Gelowige Job het ook met ernstige geloofsvrae na trauma geworstel. Slagoffers vra: Waarom is my kind dood?
Waarom nou?
Waarom so?
Waarom ék wat so baie vir die kerk doen?
Waarom het U toegelaat dat die aanvallers in my huis inkom?
Waar was U toe die siekte in my liggaam begin vorm het?
Slagoffers van trauma ervaar ‘n opstandigheid teenoor God. Jy begin twyfel in God se bestaan en die Bybel se boodskappe van liefde en almag. Job se teologie het hom in die steek gelaat. Hy het reg geleef en onregverdig gely. Ek wil jou as gelowige wat ook na ‘n trauma worstel met jou geloof gerusstel. Die feit dat jy wel so ‘n geloofskrisis na ‘n trauma beleef is nie ‘n teken van jou ongeloof nie maar juis van jou geloof. Iemand het eendag die mooi voorbeeld gegee van ‘n driejarige dogtertjie wat swaai in die parkie met haar pa wat naby haar staan. En dan val sy van die swaai af. En na die val staan sy op en sit haar arms in haar sye en wys haar vinger na haar pa en trap hom uit: “Hoekom het Pappa my nie gevang nie. Jy is my pa en moes gekeer het dat ek nie so seerkry nie!” Sy baklei omdat sy hom vertrou en verwag dat hy haar van alle seerkry sal beskerm. Daarom kan jy sonder skuldgevoelens deur jou geloofsvrae worstel.
Mense in jou familie en gemeente en die werksomgewing wil jou graag troos en ‘n verskil maak op jou herstelpad na trauma maar almal van ons voel magteloos want ons verstaan net so min soos jy wat hier gebeur het en waarom dit gebeur het. Ons worstel ook oor die sin van die onregverdige lyding wat ons sien met jou gebeur het. Die boek Job is ‘n verhaal oor die geloofspad van ‘n man wat klomp trauma’s beleef het en uit wie se worsteling ons ‘n kykie kan kry oor wat met ons tydens ‘n trauma kan gebeur. Miskien kan hy vir ons iets leer en dien hy as hoop dat daar wel ‘n lewe na trauma kan wees.
DIE EXIT KNOPPIE
HOOP IN DIE TYE VAN DIE CORONAVIRUS EN NOG BAIE MEER
Soms wil jy nie meer nie.
Jy kan nie meer nie.
Jy wil uit, maar daar is nie ‘n uit nie.
As daar maar êrens ‘n EXIT knoppie was wat jy kon druk….
Maar intussen is jy in die lewe se bokskryt. En jy word stukkend geslaan deur krisisse, hartseer en bekommernis.
Indien jy soms só voel, is hierdie boek net vir jou.
UITTREKSEL
Toe sê Elísa: Hoor die woord van die HERE! So spreek die HERE: Môre omtrent sulke tyd sal ‘n maat fynmeel ‘n sikkel, en twee mate gars ‘n sikkel kos in die poort van Samaría. Maar die adjudant op wie se arm die koning geleun het, antwoord die man van God en sê: Al maak die HERE ook vensters in die hemel, sou dit kan gebeur? En hy sê: Kyk, jy sal dit met jou oë sien, maar nie daarvan eet nie.
2 Konings 7:1-2
Met ‘n boksgeveg kan ‘n bokser met punte wen of met ‘n uitklophou. Soms gebeur dit dat ‘n bokser ver voor is met die punte, maar dan verloor hy met ‘n uitklophou.
Kom ons gaan staan stil by ‘n baie belangrike boksgeveg. Die twee teenstanders is realiteit en geloof.
En ja, soms beleef ons hierdie boksgeveg elke dag in ons lewe.
Elke dag het jy te doen met die realiteit van krisisse en bekommernisse. Maar moenie van geloof vergeet nie. Geloof is ‘n sterk teenstander!
In die hartjie van die Ou Testament, in die dae van die konings van Israel vind ons ‘n verhaal van realiteit vs geloof.
Daar was ‘n groot hongersnood in Samaria. Dit was as gevolg van die Arameërs wat Samaria beleër het. Die inwoners van Samaria kon nie uit of in die stad beweeg het nie. Dit het lank so aangehou en die kos het begin skaars raak.
Voedselpryse het die hoogte ingeskiet.
Mense het honger gely, was bevrees en die toekoms was duister. Dit het so erg geraak dat die koning op ‘n stadium verby ‘n vrou gestap het wat in nood was.
Sy het vir die koning gesê: “Hierdie vrou het vir my gesê: Gee jou seun, dat ons hom vandag eet; dan kan ons môre my seun eet. So het ons dan my seun gekook en hom geëet; maar toe ek die volgende dag vir haar sê: Gee jou seun, dat ons hom eet, het sy haar seun weggesteek.”
Dit was ‘n donker tyd in die geskiedenis.
Van geloof was daar min te sprake.
Van realiteit baie.
En so het realiteit voorgeloop in hierdie boksgeveg. Die realiteit was die volgende:
Daar was nie kos nie!
Daar was nie ‘n toekoms nie!
Daar was nie hoop nie!
En tog, te midde van hierdie omstandighede was die Dominee van Samaria, Elisa, nie bekommerd nie.
Op ‘n stadium toe almal moedeloos was, slaan geloof ‘n hou.
Dominee Elisa preek en sê: “Hoor die woord van die HERE! So spreek die HERE: Môre omtrent sulke tyd sal ‘n maat fynmeel ‘n sikkel, en twee mate gars ‘n sikkel kos in die poort van Samaría.”
En daarmee het Elisa bedoel dat kospryse die volgende dag drasties sou afkom.
Niemand het hom geglo nie, want die realiteit was te sterk:
Die vyand beleër hulle!
Daar is nie kos nie, waarom sou kospryse afkom?
Daar is geen ander volk wat hulle sal red nie.
Toe slaan realiteit ‘n groot hou, want die adjudant van die koning sê die volgende: “Al maak die HERE ook vensters in die hemel, sou dit kan gebeur?”
Kom ons noem hom sommer die Minister van Finansies van Samaria. Hy kyk vas in die realiteit!
Hy toon geen geloof nie. En hy sê dis onmoontlik.
En Dominee Elisa antwoord hom: ”Kyk, jy sal dit met jou oë sien, maar nie daarvan eet nie.”
En so vind ons hierdie boksgeveg tussen realiteit en geloof. En realiteit is met punte ver voor, want niemand het meer geloof en hoop nie. Niemand, behalwe Elisa.
Hy is vol geloof.
Hy weet Sy God is in beheer.
Hy het volle vertroue in geloof.
Intussen gebeur daar iets baie interessant.
Vier melaatse mans besluit om oor te loop na die Arameërs, want óf hulle nou van die honger sterf in Samaria óf onder die swaard van die vyand, hulle lewe is nie veel werd nie. En toe hulle in die aand in die laer van die Arameërs instap, is daar geen teken van die vyand nie.
Baie van hulle goud en kos en besittings was daar, maar nie ‘n enkele mens nie.
Want die HERE het die leër van die Arameërs ‘n gedruis van waens en ‘n gedruis van perde, ‘n gedruis van ‘n groot leërmag laat hoor, sodat hulle die een vir die ander gesê het: Kyk, die koning van Israel het die konings van die Hetiete en die konings van die Egiptenaars teen ons gehuur om ons te oorval. Daarom het hulle in die skemer klaargemaak en gevlug, maar hulle tente en perde en esels, die laer soos dit was, in die steek gelaat; en hulle het vir hul lewe gevlug.
2 Konings 7:6-7
Vers 16 is belangrik. Want dit is hier waar geloof vir realiteit uitslaan:
Toe gaan die volk uit om die laer van die Arameërs te plunder; en ‘n maat fynmeel het ‘n sikkel gekos, en twee mate gars ‘n sikkel, volgens die woord van die HERE.
2 Konings 7:16
Elisa se woorde het waar geword. Geloof het realiteit verslaan. En die Minister van Finansies?
Hy het met sy lewe geboet vir sy ongeloof.
So staan ek en jy daagliks binne hierdie geveg tussen realiteit en geloof. En baie mense is aan realiteit se kant. Want hulle kyk vas in die realiteit van die lewe: Die ekonomie, politieke uitsprake, siektes, finansiële probleme.
Ons kyk te veel vas in realiteit. Gee geloof ‘n kans om die uitklophou in jou lewe te slaan.
Realiteit mag voorloop op punte. Dit kan finansieel sleg gaan met jou.
Dalk is jou paaiemente agter.
Dalk is jy siek, hartseer, bekommerd.
Gee Geloof die kans. Trek die bokshandskoene van geloof aan en slaan geloofshoue. Geloof werk!
Realiteit vs geloof.
Waar staan jy?
Vir die Minister van Finansies van Samaria het realiteit sy lewe gekos. As hy maar net geglo het....
GESONDE SEKSUELE ONTWIKKELING
RIGLYNE AAN OUERS IN ‘N TEGNOLOGIESE GEVORDERDE ERA
Die Net-generasie is die eerste generasie wat grootword in ‘n tegnologiese wêreld waar byna alles gerekenariseerd is. Hulle gebruik nie net die tegnologie soos die ander generasies voor hulle nie – hulle lééf dit. Derhalwe bied die opvoeding van hierdie generasie groot uitdagings aan hulle ouers. Die uitdagings is soveel groter omdat die wêreld waarin ouers grootgeword het radikaal verskil van die een waarin hulle kinders grootword.
Ouer volwassenes is eers onlangs gekonfronteer met Facebook, Myspace, selfone, Mixit, iPods en die internet. En alhoewel daar by die meeste ouers die begeerte is om vir hulle kinders ‘n gesonde seksuele klimaat te skep, tas hulle dikwels in die donker rond omdat hulle self verward is rondom hierdie tegnologiese toerusting en selfs rondom hulle eie seksualiteit.
Ook worstel ouers met vra soos: “Hoe kan ons vir ons kinders ‘n gesonde klimaat skep sodat hulle seksueel gesond kan ontwikkel in die tegnologiese era?” Watter gesprekke behoort ons met ons kinders te voer oor seksuele sake en op watter ouderdom moet ons met ons seksuele onderrig begin? Ouers sit ook met onbeantwoorde vrae soos: “Watter tipe seksuele gedrag is normaal vir watter ouderdom?”
Hierdie boekie bied leiding aan hedendaagse ouers om hulle kinders, wat in die kuberwêreld leef, te help om seksueel gesond te ontwikkel.
UITTREKSEL
“Wie van julle praat met julle ouers oor seksuele sake?” vra ek aan die groep kinders wat besig is met hulle finale jaar van katkisasie.
Hulle lag saggies en praat eers onderling met mekaar, voordat een van die seuns toe namens die groep vra: “Hoekom moet ons met ons ouers daaroor praat?”
“Wel,” begin ek, “ek kan aan heelwat redes dink waarvan een seker is dat julle vrae rondom seksualiteit behoort te hê en dat julle ouers ‘n belangrike bron is om die antwoorde te gee.”
Nou lag hulle sommer hardop en kyk my aan asof ek saam met die Groot Trek oor die Drakensberge gekom het: “Maar Tannie – ons google ons vrae en kry dadelik antwoorde! Hoekom wag totdat ons ouers in die aand by die huis kom om antwoorde te kry?”
Sy antwoord dra ‘n sterk element van waarheid, want wanneer vorige generasies inligting gesoek het, het hulle dit meestal by hulle ouers of in ‘n biblioteek gekry. Die werking van die wiel is byvoorbeeld van geslag tot geslag oorgedra. Maar met die aanbreek van die Net-generasie hoef hulle egter nie meer hulle ouers te vra oor die “werking van die wiel” nie. Hulle google net die antwoorde op hulle vrae. Dit is ‘n voorreg om inligting binne sekondes te kry, maar die leemte is dat hulle wel die inligting kry, maar sónder die waarde-oordrag wat ouers voorheen saam met die inligting gegee het. Waarde-oordrag is een van die kern elemente in ‘n gesin. Daar is ‘n ou gesegde: “If children are not taught or encouraged to believe in something, they will believe in anything.”
Iemand vertel my van die onderwyseres wat vir die graad drie’s gesê het: “Seks is net vir volwassenes en sommige families glo dat ‘n mens net seks mag hê as jy getroud is. Julle moet weet wat die reëls vir julle gesin is!” Een kind skreeu toe: “Geen voete op die bank nie!!!”
Ouers behoort aan hulle kinders van kleins af familiewaardes ten opsigte van die televisie, die Internet, rekenaar, selfoon en webkamera op ‘n gereelde basis oor te dra. Wie anders as ouers is daar om waardes oor te dra?
Die Wired-generasie is die eerste generasie wat grootword in ‘n tegnologiese wêreld waar byna alles gerekenariseerd is. Hulle gebrúík nie net die tegnologie soos die ander generasies voor hulle nie – hulle lééf dit. Die Net-generasie het op tegnologiese gebied meer en vinniger veranderinge as enige ander generasie voor hulle gesien en beleef. Verbruiker-navorsing meet die aanvaarding van die tegnologie, die sogenaamde binnedringings-tempo, aan die hoeveelheid jare wat dit ‘n nuwe vorm van tegnologie neem om ‘n teikengroep van 50 miljoen mense te bereik. Die radio het 38 jaar geneem, die telefoon 20 jaar, die televisie het 13 jaar geneem om 50 miljoen huise te bereik, selfone het 12 jaar geneem, terwyl die Internet slegs 4 jaar en Blogs 3 jaar geneem het. Sosiale netwerke soos MySpace het slegs 30 maande geneem om 125 miljoen lede te kry terwyl dit YouTube 12 maande geneem het! Tans (2013) het You Tube reeds die 1 miljard kerf bereik. Facebook het in 2012 die miljard kerf bereik.
Die Wired-generasie of die Net-generasie laai musiek af, deel video’s met mekaar, speel aanlyn-speletjies, en kry nuus en inligting deur te google. Hulle bespreek hulle fliekkaartjies, deel hulle emosies met almal op die Internet, maak vriende en sosialiseer elektronies, alhoewel baie van hulle, hulle globale vriende nooit sal ontmoet nie. Hulle sien meer geweld in hulle jong lewens as enige van die vorige generasies want hulle kyk video uittreksels op YouTube oor oorloë, terroriste aanvalle soos 9/11 en huishoudelike geweld. Hulle sien aanmekaar natuurlike rampe soos tsoenamies.
Derhalwe bied die opvoeding van hierdie generasie groot uitdagings aan hulle ouers. Die uitdagings is soveel groter omdat die wêreld waarin ouers grootgeword het radikaal verskil van die een waarin hulle kinders grootword. Ouer volwassenes is eers onlangs gekonfronteer met Facebook, Myspace, selfone, Mixit, iPods en die Internet. En alhoewel daar by die meeste ouers die begeerte is om vir hulle kinders ‘n gesonde seksuele klimaat te skep tas ouers dikwels in die donker rond omdat hulle self verward is rondom hierdie tegnologiese toerusting en selfs rondom hulle eie seksualiteit.
Ek het verlede week vir die groep kinders oor die virtuele wêreld uitgevra en ook wat hulle ouers se reëls en grense rondom die kuberwêreld is. Feitlik die hele klas van 60 kinders het erken dat hulle ouers nog nooit met hulle gepraat het oor die “bedrade” wêreld waarin hulle leef nie. En ek is seker dit is nie omdat die ouers nie omgee nie, maar dit is omdat hierdie wêreld vir hulle totaal en al onbekend is. Nietemin is dit die wêreld wat ‘n groot invloed op die Net-generasie se seksuele ontwikkeling het. Omdat ons kinders hulle inligting google het ouers nie meer soveel geleenthede om hulle waardes met hulle kinders te deel nie. En wanneer hulle hulle waardes deel, is dit so ver verwyder van die kinders se wêreld dat die kinders dit nie integreer nie.
Die koerante en nuus is vol berigte van kinders wat gemolesteer word en dit maak ouers angstig: Is die gedrag wat my kind toon ‘n simptoon van iets wat met hulle gebeur het? Ouers worstel dikwels met vrae soos: “Hoe kan ons vir ons kinders ‘n gesonde klimaat skep sodat hulle seksueel gesond kan ontwikkel?” “Watter gesprekke behoort ons met ons kinders te voer oor seksuele sake en op watter ouderdom moet ons met ons seksuele onderrig begin?” Ouers sit ook met onbeantwoorde vrae soos: watter tipe seksuele gedrag is normaal vir watter ouderom? Al hierdie onsekerheid, angstigheid en vrae veroorsaak dat ouers die seksuele opvoedingstaak oorweldigend vind.
Gesien in die lig van voorafgaande is daar ouers wat ontoereikend voel en die handdoek ingooi en hoop dat die kerk en die skool die nodige waardes vir hulle kinders sal leer. Dit bring my by die vraag oor die rolverdeling ten opsigte van seksuele opvoeding tussen die kerk, skool en ouers.
WAAROOR HANDEL DIE BOEK?
Beste mede-gelowige
Ons sou graag saam met jou koffie in Starbucks wou drink en met jou gesels oor hierdie wonderlike boek vol boodskappe van hoop in ‘n toenemende donker en chaotiese wȇreld.
Ons sou jou graag in die oë wou kyk en jou wou bemoedig met die visioene van Jesus dat Hy gou weer kom. Openbaring 22:12 – “Kyk, Ek kom gou!”
Ons sou aan jou wou raak en jou wou troos dat God self jou trane sal afdroog.
Openbaring 21:4 – “Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie.”
Ons sou jou wou aanmoedig om te volhard in jou geloof te midde van ‘n land waarin dit soms lyk asof daar geen uitkoms is nie. En aan jou die belofte wou gee dat volharding beloning bring. Openbaring 3:5 – “Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort.”
Ons sou jou hand wou neem en vir jou wou bid dat jy genade en vrede te midde van die storms in jou lewe sal hȇ.
Openbaring 1:4 – “Genade en vrede vir jou van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.”
Daarom dat hierdie boek nie ‘n formele boek is met hoofstuk-indelings, inhoudsopgawe en verwysings nie. Hierdie is gesprekke wat ons met jou voer, al is die medium die geskrewe taal. Die gesprekke sal ons neem na vreemde terreine met skouspelagtige beelde soos die draak, die vrou op die maan, paddas, sewe Geeste voor die troon, 144 000 mense, die Leeu en die Lam, verskillende kleure perde, trompette, ‘n vrou op ‘n helderrooi dier, Armageddon, bodemlose onderaardse diepte Babilon en vele meer. Maar altyd sal die gesprek terugkom na die hoofkarakter in hierdie kosmiese verhaal: Jesus Christus.
Apokalips oor Jesus is ‘n boek vol hoop en betekenis in ‘n stukkende wȇreld van onsekerheid, angs en pyn. Dit doen die naam Apokalips gestand. Dit lig die sluier om Jesus raak te sien ten spyte van hartseer, angs en bangmaakstories van diegene wat Openbaring wil verklaar as die rampspoedige einde van alles. Want dit is juis die teenoorgestelde:
Dit is die begin van alles, die begin van ‘n wonderwȇreld wat voor ons oë gaan afspeel. En dit bemoedig die gelowiges om hulle geloof te behou sodat hulle al die wonderlikhede wat wag kan ervaar. Kom ervaar saam met Henk en Annelize die vertroosting van Johannes aan ‘n stukkende wȇreld vanaf sy eerste lesers regdeur die eeue tot in 2020, die jaar van die globale Corona-pandemie en die tyd na 2020 totdat die Here Jesus kom.
Albei die skrywers het hulle doktorsgrade in Teologie aan die Universiteit van Pretoria verwerf en staan tans in die bediening.
UITTREKSEL:
Die boek word geskryf teen die einde van die eerste eeu op ‘n klein Griekse eiland, Patmos, in die Egeïese see so 64 kilometers vanaf die kus van Klein-Asië en redelik naby aan die sewe gemeentes waarvan ons lees in die eerste drie hoofstukke van Openbaring. Dit word geskryf in ‘n Maksimum-gevangenis. Maar dit is anders as in vandag se tyd. In plaas van die geluid van seldeure wat hard toegemaak word in die aande, hoor jy hier die sagte gedruis van die see. Soms die harde slag van ‘n brander en dan weer stilte. In ‘n grot wat dien as een van die natuurlike tronkselle, sit ‘n ou man by ‘n lampie en skryf. Hy raak-raak so aan die honderd-jaar. Sy oë is nog redelik goed, sy bejaarde liggaam nog sterk, want hy moet oorleef op ‘n rotsagtige eiland. Min sou hy toe weet dat toeriste dwarsdeur die wȇreld nog 2000 jaar later in hierdie grot sou kom inloer in ‘n poging om iets van die wonder van die visioene wat hy hier gekry het, te herbeleef. Hy is ‘n Maksimum-gevangene. Maksimum-gevangenes was politieke gevangenes. Hulle was vyande van die staat. Hy is deur Kieser Domitian in 95 na Christus hierheen verban omdat hy die evangelie verkondig het en sy getuienis ‘n bedreiging vir die Romeinse Ryk geword het. Vir 18 maande sou dit sy tuiste wees voordat Keiser Nerva hom sou begenadig en hy kon terugkeer na Efese waar hy ‘n paar jaar later sou sterf. Sy naam is Johannes, die broer van Jakobus. Hy was een van Jesus se dissipels, dié een vir wie Jesus lief was. Hy was by toe Jesus die dogter van Jaïrus uit die dood laat opstaan het. Hy het die aardse Jesus goed geken, hy het met Hom rondgeloop en saam met Hom geëet. Alhoewel hy ook die voorreg gehad het om momente van Jesus se heerlikheid te sien soos met Sy Verheerliking, het hy hom grotendeels as Mens gesien. Hy was by die laaste Pasgamaal saam met Jesus in 33 na Christus. Hy het nog langs Jesus daardie aand gesit. Hy was saam met Jesus in Getsémané en op Golgotha het Jesus hom gevra om na sy ma om te sien. Hy het Jesus ‘n paar keer gesien nadat Hy opgestaan het uit die dood. Daarna het hy ‘n groot rol in die nuwe kerk in Jerusalem gespeel. Later het hy na die kerk in Efese, wat deur Priscilla en Aquila begin is, gegaan. Hier het hy die evangelie bly verkondig en gebou op die werk wat Paulus daar gedoen het. Hy het gereeld gereis na die 6 ander gemeentes in die omgewing in Klein-Asië. Op hierdie eiland kom verskyn Jesus weer aan hom en gee aan hom die pragtige visioene om sy gemeente lede te versterk. Hier sien hy nou Jesus as God en Koning van die konings. Ons lees in Openbaring 1:2: Johannes is die getuie van wat God gesê en wat Jesus Christus bevestig het; hy getuig van alles wat hy gesien het.
WAAROOR HANDEL DIE BOEK?
UITTREKSEL:
Veronderstel dat iemand in Januarie 2020 vir jou die volgende sou gesȇ het: “In hierdie jaar sal jy geen drukkies kry nie, inteendeel jy sal twee meter van persone af moet wees en almal sal maskers moet dra. Jy, jou familie en vriende sal nie bymekaar kan kuier nie. Jy sal geen sportbyeenkoms kan bywoon nie, jou kinders se skole sal sluit, jou kerk se deure sal toemaak, winkels sal nie verkope doen nie en die strate sal verlate wees. Op die koop toe, sal miljoene mense globaal siek word en sterf.” Jy sou gelag het en nooit in jou wildste drome gedink het dat die voorspelling enige waarheid sou ingehou het nie. Ons lees in die Bybel ook van ‘n man wat ‘n voorspelling gemaak het wat niemand aanvanklik geglo het nie en waarvan die uitwerking enorm was. Soos Covid-19 die wȇreld verander het, miljoene mense hulle werk verloor het en duisende gesterf het, het hierdie voorspelling ook Israel verander en het baie mense gely en gesterf. Voordat ons lees oor sy voorspelling gaan ons gesels oor hierdie man. Eeue na hierdie man se lewe skryf Jakobus oor hom: Elia was maar ‘n mens net soos ons. Hy het God egter mooi en ernstig gevra dat dit nie moes reën nie. Drie en ‘n half jaar lank het die reën toe heeltemal weggebly. Toe bid hy weer en toe begin dit reën. Dit het soveel gereën dat alles weer grasgroen en pragtig was. Jakobus 5:17-18 Jakobus skryf dat Elia ‘n gewone mens was, net soos ons. Hy was nie volmaak nie en het foute en tekortkomings gehad. Ons weet nie of hy getroud was nie. As hy getroud was, sou hy ook probleme gehad het om vir sy gesin te voorsien. As hy nie getroud was nie sou hy teenoor eensaamheid en alleenheid te staan gekom het. ‘n Gewone mens soos ons… Maar hy het ‘n geloof gehad wat ons kan inspireer. Sy naam word dertig keer in die Nuwe Testament genoem en hy het saam met Moses aan Jesus verskyn op die berg van Verheerliking. Dis Elia wat weggeneem is voordat hy gesterf het. Sedert Moses was daar nie weer iemand soos hy nie. Om Elia se verhaal te verstaan moet ons insig kry in die tydperk waarin hy gelewe het. Israel, in Elia se tyd, was ‘n korrupte samelewing vol misdaad. Hulle leiers het omkoopgeld geneem en kriminele optredes het hoogty gevier. Hulle het nege-en-twintig regerings na mekaar gehad wat korrup was. Die hele samelewing was beginselloos. Gedurende hierdie jare het God verskeie profete gestuur sodat die leiers en die volk hul kon bekeer en hulle immorele optredes kon stop sit. Dit was nie maklik om profete in daardie tydperk te wees nie. Mense het hulle geïgnoreer. Leiers het hulle vermoor. Suid-Afrikaners weet hoe lyk ‘n korrupte land waarin misdaad hoogty vier. Tydens die hoogtepunt van die donkerte van die 200 jaar, in 869 voor Christus, kom daar ‘n koning en sy vrou aan bewind wat slegter as almal voor hulle was. Agab was die seun van Omri, wat ‘n militȇre leier was wat die regering van die vorige koning omvergewerp het om koning van Israel te word. Ons lees in 1 Konings 16:25 dat Omri selfs meer boos as die ander konings voor hom was. Die Bybel spandeer ‘n hele paar hoofstukke aan Omri se seun, Agab. Hy het met ‘n heidense prinses, Isebel, getrou. Agab het gedink dat hy verhewe bo die Wet van God is en dat hy kon doen wat hy wou. Isebel was ‘n moordenares wat Agab diep in die Baälafgodery laat beland het. Isebel was die dogter van Et-Baäl, die koning van Sidon. Hy was aanvanklik ‘n priester in die Baälkultus en het toe ‘n staatsgreep uitgevoer en so aan bewind van Sidon gekom. Sy dogter, Isebel, was baie bekend met Baälaanbidding en het toegang gehad tot Baälpriesters wat sy na Israel gebring het. Sy was vasbeslote om haar godsdiens as Israel se amptelike godsdiens te laat verklaar. Baäl was die afgod van reën en gewasse. Sy volgelinge het geglo dat hy reën gee en gewasse laat groei. Baälaanbidding het kinder- en baba-offers, dronk orgies en seksuele, perverse dade ingesluit. Dit is ook waarom God dit so verafsku het. Mettertyd het alle ware aanbidding van die Here in Israel verdwyn en goue kalwers is aanbid by Dan en Bet-El. In die hoofstad, Samaria, het Agab sover gegaan om ‘n tempel vir Baäl te bou.