Lees ons Artikels

Afrikaanse Christelike Kerk

Geskryf deur Dr. Annelize Endres
Die rol van genes en ondervinding in trauma

Watter rol speel genes en watter rol speel ondervinding by hoe ’n mens ’n trauma gaan ervaar?

’n Baba word gebore met ’n genetiese geprogrammeerde oorvloed senuwees en na die geboorte vestig die sinaptiese verbindings wat bepaal word deur beide die genes en die ondervinding  (Siegel 1999). Genes bevat die informasie vir die algemene organisasie van die brein se struktuur, maar ondervinding bepaal aan watter van die genes uiting gegee gaan word, asook hoe en wanneer.  Die uiting van genes lei tot die vervaardiging van prote?ne wat senuweegroei en die vorming van  nuwe sinapses  in werking stel.  Ondervinding vorm gene-uiting en lei tot die handhawing, skepping en versterking van die verbindings wat die senuwee onderlaag van die brein vorm. Vroeg in die lewe is interpersoonlike verhoudings ’n primêre bron van ondervinding, en dit bepaal hoe genes hulle binne die brein gaan uitdruk (Siegel 1999).   Dit is ook moontlik dat vroeë onwikkelings gebeurtenisse biologiese abnormaliteite in sommige mense kan veroorsaak (Carlson). Breinontwikkeling is die produk van die uitwerking van ondervinding op die ontvouing van die genetiese potensiaal.  Die vraag is dus nie:  genes of omgewing? nie.  Maar hoe kan genes en ondervinding van mense in wisselwerking met mekaar wees tydens trauma?

’n Faktor wat ’n rol in trauma speel is die mens se genetiese vatbaarheid aan trauma. Navorsing het bevind (Davidson 1992) dat genetiese temperamentele verskille in sekere individue veroorsaak dat hulle meer vatbaar is vir traumatiese ervarings as wat ander mense is.  Mense met genetiese vatbaarheid tot angstigheid, aggressie of depressie sal meer ernstige reaksies ontwikkel wanneer hulle aan trauma blootgestel word (Carlson 1997:68).

Daar is twee hoof-perspektiewe oor die rol wat vorige traumas (ondervinding) in die huidige trauma speel. Die eerste daarvan is dat ’n mens “immuun” teen trauma word. Die derde keer wat ’n spesifieke persoon gekaap word is dit dalk nie meer so skokkend vir hom of haar nie. “Trauma may ‘innoculate’ people so that they are more resistant to subsequent trauma … Intermittent, moderate trauma can produce a ‘toughening’ effect so that the individual is not as sensitive to later traumas “ (Carlson 1997). Tweedens kan dit egter ‘n persoon se vermoë om ‘n trauma te hanteer, verminder. Die derde keer wat ’n persoon gekaap word, kan sy of haar gestel net ingee en kan hulle dit nie meer hanteer nie.  “On the other hand, stressful events prior to trauma may reduce a person’s psychological resources and impede that individual’s ability to cope with trauma”  (Carlson 1997).  ’n Mens kan nie voorspel watter een van die twee tydens trauma die oorhand gaan kry nie. Daar is egter navorsing wat beweer dat wanneer mense wat ’n vorige trauma beleef het gekonfronteer word met ’n nuwe trauma, hulle meer en intenser reaksies vertoon met meer Post Traumatiese-stres simptome as diegene wat nie voorheen ’n trauma beleef het nie (Davis, Lurigio & Skogan 1997).  In Suid-Afrika met sy hoë misdaadsyfer beleef mense dikwels meer as een trauma wat beteken dat ’n groot deel van ons bevolking aan Post Traumatiese stres-simptome ly.

Familie
Afrikaanse Christelike Kerk

Geskryf deur Dr. Annelize Endres
Elemente by akute trauma

Natuurramp

’n  Slagoffer van die Tsunami van 26 Desember 2004 onthou:

Ek was in ‘n hotelkamer op die vierde vloer.  Die kamer het groot vensters gehad wat op die see uitgekyk het.  Ek het benoude gille gehoor wat geklink het soos duisend gille wat op dieselfde oomblik afgegaan het.  Die volgende oomblik toe ek my oë opslaan en kyk na waar ek elke oggend, ‘n paar minute gelede nog, die see gesien het, sien ek nou ‘n massiewe donderstorm.  Die grootste, swartste, bangste, kwaadste wolke soos soliede pikswart golf wat soos ‘n reguit muur na ons toe afstorm.  Toe daardie golf die laaste wit sand tref het mense nog vooruit gehardloop.  Die een oomblik was hulle onder op die grond en die volgende oomblik was hulle dertig voet hoog in die lug.  Die krag van die water het motors opgetel  in die lug.  Hy het op ons hotel afgestorm en is bo-oor al die mense om die swembad.  Die volgende oomblik het dit soos ‘n groot kanonskoot ons hotel getref.  Die impak was skrikwekkend …

Om 07h58 daadie  oggend het 'n aardbewing wat 9.0 op die Richterskaal gelees het, in die Indonesiese kus plaasgevind en daarmee saam een van die grootste rampe in die geskiedenis.    Die tsoenami van 26 Desember 2004 het ook naby die kus reuse golwe van tot 30 meter gevorm wat op die strande afgejaag en binne ure mense in 11 lande weggevee het.  Visdorpies is uitgewis, huise is soos papierhouers opgefrommel,  gesinne is uitmekaar geskeur soos die genadelose branders gekom het. Ongeveer 250 000 mense sterf in die verskriklike ramp wat 3000 myl langs die kus om die Indiese Oseaan vernietig het.  Die tsunami was ’n akute, eenmalige traumatiese ervaring vir die slagoffers.

Twintig seuntjies het op 26 Desember 2004 op Marinastrand in die  stad Chennai krieket gespeel toe ‘n enkele golf hulle almal binne ‘n oogwink weggevee het...

n Sweedse kind, die sewejarige Karl Nilsson het sy ouers en twee boeties deur die water verloor.  Hy vertel:  “Ek het net my oë in die golf toegemaak.  Toe die vloed oor was, was ek in ‘n ander land.”

’n Akute trauma verander jou lewe binne sekondes. Jy word in ’n ander land wakker.   Vertroue en veiligheid word met ’n oogwink verpletter. Trauma vernietig die slagoffer se fundamentele veronderstellings dat die wêreld veilig is en ook die positiewe waarde van die self.  Die gevoel van veiligheid in die wêreld (of basiese vertroue)  word in die vroeë lewensjare verwerf in die verhouding met die eerste oppasser.  Hierdie gevoel van vertroue word deur die persoon deur die lewensiklusse volgehou.  Dit vorm die basis van alle verhoudings.  Dit gee hulle die idee dat hulle in die wêreld behoort, ’n wêreld wat gasvry vir mense is.  Wanneer mense angs beleef, soek hulle spontaan hulle eerste bron van beskerming en troos.  Gewonde soldate en mense wat verkrag is roep na hulle ma’s of na God. Wanneer God of hulle ma’s nie reageer op hulle geroep nie, word die vertrouensgevoel wat hulle gehad het, vernietig. Hulle voel verontregting en of God en hulle ma’s hulle in die steek gelaat het.

Akute trauma het drie algemene elemente:

* Onverwags of skielik

Die skielike of onverwagse faset is ’n sleutelelement om te bepaal of ’n gebeurtenis traumaties is, al dan nie. Gebeurtenisse wat skielike en onmiddellike bedreiging inhou, is meer waarskynlik om oorweldigende vrees te veroorsaak as gebeure wat geleidelik gevaar bring en seerkry veroorsaak.

Die kritiese faktor is die hoeveelheid tyd wat verloop tussen ’n persoon se bewuswording van die gevaar en die gevaar self  (Carlson 1997).  Ronnie Janoff-Bulman (1992), professor in die sielkunde by die Universiteit van Massachusetts te Amherst, wys daarop dat sekere gebeurtenisse nie traumaties is nie, al is hulle negatief en skrikwekkend omdat dit geleidelik gebeur.  Hierdie geleidelike veranderings kan kognitief en emosioneel verwerk word deur geleidelik ook verandering in die persone se skemas oor hulself en die wêreld te maak.  Wanneer ’n mens byvoorbeeld oor jare heen siek word met ’n dodelike siekte, het jy tyd om die idee van jou eie dood te aanvaar en hoef jy nie getraumatiseer te wees deur die gebeure nie.  Dit beteken nie dat ‘n mens nie vrees gaan belewe en nie depressief gaan wees nie, maar jy is nie oorweldig deur vrees tot op die vlak wwar jy ernstige simptome van angstigheid sal toon nie (Carlson 1997).  Aan die ander kant, indien ‘n  mens vasgekeer is in ’n brandende gebou, het jy nie tyd om die gebeure kognitief of emosioneel te verwerk nie en mag jy oorweldig word deur vrees en dus getraumatiseerd wees.   Werklike of bedreigende psigologiese pyn is nie trauma as dit geleidelik gebeur nie.  Wanneer ’n vrou se eggenoot  geleidelik oor jare heen siek word en sterf aan kanker, sal daar tyd wees om die dood kognitief en emosioneel te verwerk sodat sy nie getraumatiseerd is wanneer die man sterf nie.  Aan die ander kant, indien ‘n vrou se eggenoot skielik voor haar oë sterf aan ’n hartaanval, mag sy maklik getraumatiseerd wees omdat  sy nie tyd het om die emosionele verlies en veranderings wat so ’n dood teweeg-bring, te kan verwerk nie (Carlson 1997).

’n Posttraumatiese-reaksie is meer waarskynlik na ’n ekstreem negatiewe gebeurtenis wat oor minute, dae of weke plaasvind.  Daarteenoor is ‘n  depressie-reaksie meer waarskynlik na ’n ekstreem negatiewe gebeurtenis wat oor maande of jare kom.

* Persepsie van gebeurtenis as negatief

Die tweede element wat ’n gebeurtenis traumaties maak,  is wanneer die insident gesien word as ’n gebeurtenis met ’n ernstige negatiewe valensie.  ’n Traumatiese gebeurtenis mag ’n ernstige negatiewe valensie hê wanneer daar fisiese pyn of beserings is, wanneer dit emosioneel pynlik is of gesien word as dat daar ’n moontlikheid is om fisiese pyn, beserings of emosionele pyn te ervaar of dat selfs die dood moontlik is.  Die Hongaarsgebore Hans Selye (1907-1982) was die eerste skrywer wat oor die stressindroom geskryf het. Vandag staan hy bekend as die ‘vader van stres’.  Selye (1956)  toon aan dat die mense wat in die voorgeskiedenistyd geleef het, se liggame aangepas het by gevaar.  Wanneer hulle gaan jag het en voor gevaar te staan gekom het,  het die veranderings wat outomaties in hulle liggame gekom het, hulle voorberei om op die gevaar te reageer.  Hulle liggame het meer kortisol en adrenalien vrygestel. Dit het hulle harte vinniger laat klop en hulle het vinniger asem gehaal.  Daar het  meer bloed na die spiere van hulle arms en bene gevloei en hulle kon veg of vlug.  Dit het nie ‘n verskil gemaak of hulle gekies het om te veg of te vlug nie, hulle liggame se reaksie op die stresvolle situasie was dieselfde.  Die persepsie van gevaar is deur die brein aan die senuweesisteem gegee wat die boodskap na verskeie organe in die liggame gestuur het en wat hormone vrygestel het wat hulle in staat gestel het om hierdie korttermyn gevaarepisode te oorleef. Sodra die oorsaak van stres verwyder was, het die liggaam weer teruggekeer na normaal.  Hulle harte het weer normaal begin klop en hulle asemhaling was stadiger.  Die vlug-of-veg-reaksie was 'n outomatiese en onwillekeurige reaksie. Die kortisol en adrenalien wat hulle in hierdie situasie afgeskei het, het hulle gehelp om by die stresvolle situasie aan te pas en dit te hanteer, aangesien dit ‘n mens se  energievlakke verhoog. Vandag ondergaan  mense se liggame dieselfde verandering wanneer hulle voor ‘n stresvolle situasie te staan kom.   Mense en diere het ’n natuurlike instink om fisiese pyn te vermy omdat die fisiese pyn die  vermoë het om die liggaam skade aan die te doen en daarom lewensbedreigend is.  Indien persone nie in staat is om ’n skielike en onverwagse ernstige fisiese pyn te beheer nie, mag hulle ’n skielike oorweldigende vrees beleef.  Die vrees-reaksie funksioneer om die persoon te motiveer om verdere besering of dood te voorkom.  Sommige gebeure mag ervaar word as traumaties omdat dit hoogs waarskynlik is om fisiese pyn, besering of dood tydens die gebeurtenis te ervaar, al gebeur dit nie.  Met ander woorde, hierdie ervarings is negatief omdat mense die dreigement van fisiese pyn, besering of dood beleef (Carlson 1997).  ’n Voorbeeld is wanneer ’n rewolwer teen ’n persoon se kop gehou word tydens ’n rooftog.  Hierdie gebeure mag as traumaties belewe word, al is daar geen besering nie en al was daar geen werklike gevaar van besering nie omdat die rewolwer nie gelaai was nie.  Dit is egter die persoon op wie die rewolwer gerig is se oortuiging dat pyn, besering of dood waarskynlik is en dit veroorsaak die vrees-instink.  Sommige gebeure is traumaties omdat hulle emosioneel pynvol is of omdat hulle die bedreiging van emosionele pyn inhou  (Carlson 1997).  ’n Voorbeeld hiervan  is wanneer iemand die dood van ’n geliefde sien.  Die emosionele verlies wat geassosieer is met die dood van ’n geliefde sal ’n sterk negatiewe valensie aan die gebeure verleen.  In baie gevalle sal die psigologiese pyn van ’n trauma bedreigend wees vir die persoon se psigiese integriteit of selfbeeld (Carlson: 1997).  ’n Voorbeeld hiervan is om verkrag te word deur ‘n mens se metgesel van die aand.  Die slagoffer het nie verwag om fisiese pyn of ’n besering op te doen nie.  Sy is daardeur getraumatiseer al sou sy nie tydens die gebeure geglo het dat sy in fisiese gevaar verkeer nie.  So ’n verkragting mag haar selfbeeld skade aandoen as gevolg van die skaamte wat sy oor die verkragting ervaar.  Sy mag skuldig voel omdat sy voel dat sy aanleiding gegee het tot die voorval.  Indien die skade aan die persoon se psigiese integriteit groot genoeg is, mag die gebeurtenis as trauma belewe word.  Dit is ook moontlik dat die negatiewe valensie van die gebeurtenis lank na die gebeurtenis kom en dat die persoon dan eers getraumatiseer word wanneer die negatiewe valensie begryp word. ’n Voorbeeld hiervan is ’n soldaat wat ’n bevel uitvoer om ’n huis, waar die vyand se soldate wegkruip,  af te brand.  Toe hy later uitvind dat daar onskuldige kinders in die huis geskuil het, word hy getraumatiseer.

Die belangrikheid van die persoon se persepsie dat ’n gebeurtenis negatief is, kan gesien word wanneer ‘n mens die reaksies dophou wat volg op die negatiewe gebeurtenis. Byvoorbeeld, indien ‘n mens in ’n motorongeluk bewusteloos was en niks kan onthou oor die ongeluk nie,  sal die persoon nie vrees ervaar wat ’n traumatiese reaksie aan die gang sal sit nie.  Resultate van ’n studie oor verkeersongelukke in Brittanje het bevind dat nie een van die proefpersone wat geheueverlies oor die ongeluk gehad het, die ongeluk as traumaties belewe het nie (Mayou, Bryant & Duthie).  Dit is die persepsie oor die gebeurtenis wat belangriker is as die werklike gevaar wat geassosieer is met die gebeure.  Indien ’n persoon ’n geweer op ’n kind gerig hou en die kind is te jonk om die bedreiging daarvan te verstaan, omdat hy of sy glo dat dit ’n speelgoedgeweer is, sal hy of sy nie deur die gebeurtenis getraumatiseerd  wees nie, omdat geen gevaar  waargeneem is nie en geen vrees  gegenereer is nie.  So ’n gebeurtenis sal net traumaties wees as die gevaar van die situasie later deur ’n volwassene aan die kind verduidelik word.

* Gebrek aan beheerbaarheid

Die derde element is die onvermoë van die persoon om die gebeure te beheer en die daaropvolgende bedreiging van die persoon se fisiese veiligheid en psigologiese integriteit.  Daar is beduidende getuienis wat suggereer dat aangesien beskerming teen seerkry ’n basiese komponent van die mens se drang na oorlewing is, mense hulle omgewing wil beheer sodat hulle hulself teen seerkry kan beskerm (vgl Janoff-Bulman 1992;  Mayou, Bryant & Duthie 1993; Carlson 1997).  Indien ‘n mens byvoorbeeld op ’n ongelukstoneel kom en ’n ander persoon sien bloei en weet dat jy geen beheer het oor die situasie of beskik oor die vermoë om die persoon se dood te voorkom nie, mag jy getraumatiseer wees deur die skielike, baie negatiewe en onbeheerbare gebeure.  Aan die ander kant, indien ’n opgeleide paramediese persoon by die ongelukstoneel aankom en hom- of haarself sien as iemand wat oor die vermoë beskik om die persoon se dood te voorkom, sal hy of sy nie deur die insident getraumatiseer wees nie.

Die sleutel-kenmerke van ’n trauma is dus dat daar ’n negatiewe valensie by die slagoffer is, dat die gebeurtenis skielik en onverwags is en nie beheer kan word nie.  Al hierdie kenmerke is nodig vir ’n gebeurtenis om traumaties te wees en al drie word deur die persoon se perspektief en verstaan van die gebeurtenis be?nvloed.  Terwyl hierdie kenmerke almal nodig is vir die gebeure om traumaties te wees, is hulle nie altyd voldoende om ‘n posttraumatiese stresversteuring te veroorsaak nie.

Die tsoenami van 26 Desember 2004
Afrikaanse Christelike Kerk

Geskryf deur Dr. Annelize Endres
Kaping, gewapende roof of motorongeluk.

Laurie is deur twee mans gekaap en hulle het met hom in die kattebak uit die stad gery.  Buite die stad het hulle hom uit die kattebak gehaal en hom kaal laat uittrek.  Toe het hulle hom beveel om om te draai en te stap.  Hy het gevrees dat hulle hom in die rug sou skiet.  Op daardie oomblik het hy beleef dat hy nie ’n waardevolle persoon is wat die reg tot veiligheid, geluk en gesondheid het nie.  ’n Gevoel wat baie mense ervaar wanneer ’n aanval plaasvind.  As dit ’n persoon is wat jou seermaak, mag jou vertroue in ander mense en in die gemeenskap oor die algemeen geskud wees.  Dit is nie die gebeure wat bepaal of iets traumaties vir iemand is nie, maar die individu se belewenis van die gebeure.  En dit is nie voorspelbaar hoe ‘n gegewe persoon op ‘n gebeure sal reageer nie. 

Psigologiese trauma is vol gevoelens van magteloosheid.  Tydens trauma is die slagoffer hulpeloos deur die oorweldigende mag van buite.  Traumatiese gebeure  oorweldig die gewone sisteem  van omgee wat mense ’n gevoel van beheer, konnkesie en betekenis gee.  Wanneer weerstand nie moontlik is nie, word die menslike sisteem van selfverdediging oorweldig en gedisorganiseerd (Herman 1992).  Traumatiese gebeure veroorsaak diep en langdurige verandering in die emosies en denke van die mens. Getraumatiseerdes mag intense emosies ervaar en tog kan hulle nie onthou hoekom hulle so voel nie. Ander getraumatiseerdes in kontras onthou in detail die trauma, maar hulle voel niks nie. Hulle is gevoelloos daaroor.

Getraumatieseerde persone voel en tree op asof hulle senuweestelsel losgekoppel is van die hede.  Die digter, Robert Graves (1957) onthou hoe hy in die burgerlike lewe geleef het asof hy terug was in die loopgrawe van die WO1:

"I was still mentally and nervously organized for War.  Shells used to come bursting on my bed at midnight, even though Nance shared it with me:  strangers in the daytime would assume the faces of friends who had been killed."

Daar is geen standaard patroon hoe mense wat gekaap is of in ’n gewapende roof vasgevang is op die trauma reageer nie.  Sommige mense wat na my spreekkamer kom, reageer dadelik terwyl ander hulle reaksies vir maande  of selfs jare vertraag.  Ek het tans ’n kliënt wat 20 jaar gelede ’n akute trauma beleef het en nou eers daarop reageer.

Mense wat iemand na my verwys vra my altyd:  “Hoe lank gaan dit neem totdat so-en so reg is?”  Daar is ‘n aantal faktore wat bepaal hoe lank die genesingsproses gaan wees.  Ek bespreek die vervolgens:

* Die graad van die intensiteit en die verlies

Gebeure wat langer geduur het en waar daar die verlies van ‘n lewe is, neem langer om te genees.  Bertie was gekaap en vir twee dae het hulle hom in die kattebak rondgery en elke keer as hulle stilgehou het, het hy gedink dat hulle hom gaan skiet.  Hy sal waarskynlik langer neem om te genees as Jako wat ook gekaap is, maar vyf minute later het sy rowers gevlug toe hulle ’n polisie-padblokkade gesien het.

* ‘n Persoon se algemene vermoë om emosionele uitdagings te hanteer. 

Geneties is party mense meer toegerus om trauma te hanteer as ander.  Hierdie onderwerp word later in detail bespreek.

* Ander stres

Ander stresvolle situasies wat bykom soos swak gesondheid of gesinsprobleme speel ook rol in die lengte van die genesingsproses.   Laurie se herstel periode was kort omdat hy ’n ondersteunende gesin gehad het en sy vermoë om uitdagings te hanteer, goed is.

Trauma
Afrikaanse Christelike Kerk